Tel: +27 (0)53 391 3002 |

Wie Ons Is

Die skilderagtige dorpie Williston, geleë in die hart van die Hardemanskaroo, is ryk aan gemeenskapslewe, kultuur en geskiedenis. Op 10 Julie 1768 het Johan Abraham Nel van Stellenbosch ’n amandelboom by ’n fontein aan die oewer van die Sakrivier geplant ná die geboorte van sy seun. Dié boom het in ’n oase ontwikkel waar Johann Heinrich Lutz van die Rhynse sendinggenootskap in 1845 die sendingstasie Amandelboom aan die voet van die Singkoppies totstand gebring het. Onder Britse bewind is die sendingstasie in 1919 herdoop om erkenning te gee aan Sir Hampden Willis, die voormalige Britse Koloniale Sekretaris.

Die relatiewe afsondering van die omgewing onderlê ’n ryke gemeenskaps- en kultuurlewe waar mense van verskillende agtergronde op mekaar aangewese is. Die afgesonderdheid word fisiek vergestalt deur die unieke grafsteenroete en korbeelhuise van die omgewing. Die gebied is ook die habitat van die baie skaars en bedreigde oewerkonyn (riverinerabbit).

Die relatief lae reënval van die omgewing maak dit ideaal geskik vir uitgebreide siektevrye veeboerdery met dorper, merino en ander inheemse rasse as die primêre skaaprasse. Die natuurlike Karoobossie-habitat, wat bestaan uit spesies soos boesmangras, skaapbos, bitou, ganna, kapokbos en koggelmandervoet, gee aan vleis uit die streek ’n unieke, geurige smaak. Die Williston-boerderygemeenskap vind trots in die besit en bestuur van hul eie koöperasie waardeur gestreef word om smaaklike, gesonde rooivleis van hoogstaande gehalte aan elke fynproewer te lewer.

Karoo | Meat of Origins Karusaf | Lamb - Freshly frozen, direct from the farm

Copyright © 2014. Williston Vleis Koöperasie. All Rights Reserved.

Website Designed & Maintained by ATELJEE